Vrystaatse landbou-projek weer onder soeklig

 

Die geheimsinnige landbou-projek, waarby die Gupta-familie vermoedelik betrokke is, of was, is al weer onder die soeklig geplaas en het die regering nou ’n nuwe plan bedink om bespiegelings uit die weg te ruim.

 

Die Vryburger het voorheen verskeie berigte geplaas oor die vreemde projek wat in die Vrede distrik beplan word. ’n Hele aantal splinternuwe trekkers en ander implemente staan en stof vergader, en navrae daaroor het tot hede weinig lig gewerp op die saak.

 

Nou het die LUR, ene Mamiki Qabathe, verklaar dat ’n Koöperasie beheer gaan uitoefen op die trekkers, en ander toerusting, wat deur “opkomende boere” gehuur kan word.

Die koöperasie, bekend as “Tsebelisano Mechanization Co-operative Limited”, sal glo die beheer uitoefen op die toerusting wat ook ploeë, planters en waens sal insluit.

 

Blykbaar is daar reeds toerusting van sowat R13 miljoen beskikbaar wat deur Departement Landbou, Bosbou en Visserye aan die Koöperasie geskenk.

Qabathe sê dat die koöperasie se opgeleide trekkerbestuurders sal die lande bewerk en boere sal per uur-tarief moet betaal vir die werk.

 

Die toerusting is op ’n stadium vanaf die Vrede skouterrein verskuif na die uiters omstrede multi-miljoen Rand suiwelplaas wat geruime tyd gelede reeds met die ewe omstrede Gupta-familie verbind word.

Landbou kenners en politieke waarnemers meen die nuwe verduideliking is gefabriseer nadat die hele saak na die oppervlakte gebring is deur die media.