Vroue hof toe oor tennis.

Twee bekende boervroue van Bothaville pak mekaar nou in die plaaslike landdroshof oor hulle dogters se mededinging op die tennisbaan.

 

Aanvanklik het die tennis tussen die twee dogters tot ‘n vriendskap tussen Antoinette Mostert van die plaas Lapdoorns en Cecile Naudé, van die plaas Holfontein gelei. Vroeër vanjaar het Cecile ‘n prokureursbrief aan Antoinette laat skryf waarin sy haar daarvan beskuldig dat sy haar 11-jarige dogter teister, beswadder en ontsenu deur onder meer haar vinger rond te swaai.

 

Sy het ook namens haar dogter ‘n voorlopige dringende bevel in die landdroshof gekry waarvolgens Antoinette verbied word om Cecile se dogter of gesin te teister of haar dogter te verneder en te ontstel voor belangrike sportbyeenkomste.

 

Antoinette het in ‘n verklaring al die aantygings ontken. Sy sê sy en haar kind was in van die vermelde gevalle waar dit sou gebeur het, nie eens teenwoordig gewees nie.

 

In haar teen-aansoek vra sy dat die hof vir Cecile oor haar leuens aan meineed skuldig bevind en gevonnis word, of dat die aangeleentheid na die Direkteur van Openbare Vervolging vir strafregtelike aksie verwys word.

 

Intussen het die twee dames ’n skikking bereik, maar kort daarna het ’n dispuut tussen die twee ontstaan, waarby ’n bedrag van sowat R5,000 betrokke is.