VPI wek kommer

 

Die Verbruikerprysindeks (VPI) het in Julie 2013 op ‘n jaar-tot-jaar basis gestyg tot 6.3%, teenoor Junie se 5.5%. Die maand-op-maand styging was 1.1% teenoor die vorige maand se 0.3. Die VPI-styging was hoofsaaklik te wyte aan die prysstygings op petrol, water en elektrisiteit, wat te wagte was om die VPI op 6.1% te laat eindig.

 

In al drie hierdie verbruiksitems het die Suid-Afrikaanse regime ‘n direkte bydrae; in die geval van water en elektrisiteit as voorsieners deur staatsbeheerde instansies en by brandstof met buitensporige heffings en hulle bydrae tot die swak rand-wisselkoers. Daar was ook ‘n styging in die ru-olieprys wat bygedra het om die petrolprys te verhoog; aan die ander kant het Suid-Afrika vir Sasol wat nie sy grondstof, steenkool, invoer nie, maar sy prys koppel aan die ingevoerde ru-olie prys tot nadeel van die land se inwoners.

 

Die verhoogde inflasie beweeg nou buite die band van 3% tot 6% waarin die Suid-Afrikaanse Reserwebank die land se geldeenheid bestuur en plaas druk op die moontlikheid om die rentekoers te verhoog. ‘n Moontlike rentekoersverhoging word tans nog terug gehou weens die swak ekonomiese vooruitsigte wat ondervind word.