Valke ondersoek Dina Pule

Die voormalige Minister van Kommunikasie, Dina Pule, wat haar posisie as minister misbruik het, word nou glo deur die Valke ondersoek nadat dit aan die lig gekom het dat sy sedert 2009 haar posisie misbruik het om kontrakte vir haar lewensmaat te bekom.

 

Die parlementêre komitee oor etiek het gesê sy is skuldig bevind aan die klagte teen haar en dat die aangeleentheid na die polisie verwys is.

 

Pule is voorheen verkla weens ongerymdhede met die finansiering van ’n  spoggerige indaba wat die Departement van Kommunikasie in Kaapstad gehou het toe sy nog minister was.

 

Borggeld van miljoene Rand het uit die organiseerders se rekening verdwyn wat later daarop gedui het dat Pule en haar lewensmaat, Phosane Mngqibisa betrokke is aangesien hulle tekenregte op die rekening gehad het.

 

Hardnekkige berigte doen die rondte dat meer as R6 miljoen onregmatig uit die betrokke rekening getrek is. Pule word beskuldig dat sy gereël het dat ’n kontrak vir die indaba aan Mngqibisa se maatskappy toegeken word.

 

Pule is ook skuldig bevind dat sy die parlement mislei het rakende haar verhouding met ’n man wat blykbaar met haar hulp kontrakte bekom het.

Foto – Dina Pule