TLU SA bied eerste trauma-kursus aan

Die eerste kursus in traumaberading vir die slagoffers van plaasaanvalle het vandag in Pretoria ten einde geloop.

TLU SA se Veiligheidskomitee het die kursus laat aanbied nadat daar ‘n versugting daartoe uit TLU SA se lede ontstaan het.  Agt dames vanoor die hele land het die weeklange kursus bygewoon, en het gesê dat hulle graag hulle gemeenskappe wil dien, en dat hulle na die kursus in staat voel om ‘n wesenlike diens aan die gemeenskappe te kan lewer.

Plaasaanvalle is steeds ‘n wesenlike probleem in Suid-Afrika.  Tot dusver het 35 mense dié jaar in plaasaanvalle gesterf, wat ‘n gemiddeld van meer as vier sterftes per maand verteenwoordig!  Hierdie jaar het sover 124 aanvalle op plase voorgekom, wat ‘n gemiddeld van meer as 15 per maand is!

“Die realiteit is dat mense wat aangeval word, hetsy daar sterftes is of nie, getraumatiseer is en in meeste gevalle is daar behoefte aan opgeleide mense wat hierdie mense kan bystaan. Om daardie rede het TLU SA hierdie kursus aangebied, en na die sukses daarvan is daar besluit om op gereelde basis landwyd van hierdie kursusse aan te bied,” sê mnr. Henry Geldenhuys, Adjunk-President van TLU SA en ook voorsitter van dié Unie se Veiligheidskomitee.