Suid-Afrika se Vloot

Suid-Afrika se vloot moes in 2002 sy nuwe fregatte en duikbote se totale aanwending so drasties inkort weens finansiële redes dat dit nou ietwat belaglik is om te dink die Vloot het nie eers genoeg onderdele aangekoop om die hele lewensverwagting van die bote te bedien nie. Daar is voorsiening gemaak vir vyf jaar se vervangende onderdele.

 

Hierteenoor was dit in die “Ou Bedeling” so dat die aankoop sodanig gedoen is dat onderdele vir die hele leeftyd van die vaartuig se gebruik, beskikbaar sou wees. Een voorbeeld is dat ’n bepaalde boot se onderdele so aangekoop is dat dit nou, na dekades van gebruik, steeds met onderdele bedien kan word. Daar is byvoorbeeld nog twee splinternuwe masjiene vir die boot in die onderdele afdeling.

 

Philip Schoultz, bevelvoerder van die Vlootmagte in Simonstad, het die inligting bekend gemaak tydens die ondersoek voor die Seriti-kommissie, oor die multi-miljard Rand wapentransaksies.

Met die vloot se immer dalende begroting in Randwaarde, is daar noodgedwonge ’n nuwe profiel opgestel wat bepaal dat die vier fregatte slegs vir 131 dae van die jaar in gebruik sal wees.

 

Schoultz beweer die fregatte en ook die duikbote is van Duitsland aangekoop. Die bote is met uitmuntende en hoogs effektiewe nuwe stelsels toegerus, soos water aandrywings sisteme, grond-tot-lug-missiele, gasturbines en ander gesofistikeerde toerusting. Al die toerusting is nog nie eers ten volle bemeester deur die Vloot nie.

 

Hy het ook verduidelik dat die Vloot nagenoeg tien jaar gesukkel het om die Franse Daphne-duikbote se werking baas te raak. Dit het agt jaar geneem om die aanvalsvaartuie se werking te verstaan.

 

’n Voormalige weermag offisier se dat sulke dinge nie in die “ou bedeling” plaasgevind het nie, aangesien ’n span na die vervaardigers gestuur is waar hulle intensiewe opleiding ondergaan het. Hy is van mening dat dit beslis weer gedoen moes word, al het dit bykomende geld gevra.