Streng maatreëls vir rooivleis-invoere

Die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) se woordvoerder, Gerhard Schutte, sê dat streng  kwarantyn maatreëls voortaan toegepas moet word as slagvee vanuit ander lande en ook uit buurlande na Suid-Afrika gestuur word.

 

Dit sal gedoen moet word om seker te maak dat die land beskerm word teen siektes soos bek-en-klouseer, asook talle ander siektes wat die rooivleisbedryf kan benadeel.

 

Die opmerking is gemaak nadat Botswana se Landbou Departement aangekondig het dat plaaslike veeboere in droogte gebiede aldaar, hul beeste wat ouer as 30 maande is, nou na Suid-Afrika kan uitvoer.

 

Indien behoorlike maatreëls nie toegepas word nie, kan dit katastrofiese gevolge hê vir die land se rooivleisbedryf.

Volgens Schutte gaan die beeste wat hierheen kom van swak, maer gehalte wees weens die droogte in Botswana.

 

Schutte sê dat dié diere wat na Suid-Afrika uitgevoer word, minstens 30 dae in Botswana en 30 dae in die RSA in kwarantyn gehou word ten einde seker te maak dat siektes nie oorgedra word nie.