So word als vernietig.

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gaan transformeer én internasionaliseer om hom in volle ooreenstemming te bring met die politieke tydsgewrig in Suid-Afrika.

 

Dit beteken dat hy van sy tradisionele profiel van wit en Afrikaans afstand gaan doen om die volle Afrikaanse demografie te weerspieël. So lig prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Akademie die lede in.

 

Te midde van die oorlewingspogings na die vernietigende Tweede Vryheidsoorlog en vyf jaar na die gedig van E.N. Marais, "Winternag" die lig gesien het, is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns op 2 Julie 1909 in Bloemfontein o.l.v. gnl. JBM Hertzog gestig.

 

Die primêre doel was om Nederlands sowel as Afrikaans te bevorder, asook om die geskiedenis, oudhede en kuns van die volk te beskerm. Met die jare het die Akademie bekend geword vir die gereelde toekenning van literêre pryse, w.o. die Hertzogprys en ander prestigepryse soos die N.P. van Wyk Louwmedalje.

 

Die Taalkommissie van die Akademie wat reeds in 1915 in die lewe geroep is om gesaghebbende uitsprake oor Afrikaans te lewer, het groot werk verrig met die vaslegging van ‘n uniforme spelling vir Afrikaans. Deur die jare is die kommissie se spelreëls as gesaghebbend behou.

 

Deur die behoud van die grammatika en spelreëls het die Akademie geveg vir die behoud van die intellektuele tradisie in Afrikaans. Later is ‘n wetenskap-afdeling bygevoeg.

 

Dit alles word nou verander met die nuwe aankondiging, waarin die voorsitter, prof. W Carstens dit duidelik stel dat: "Ons wil hê dat die Akademie uiteindelik die demografie van die Afrikaanse gemeenskap sal verteenwoordig."

 

Hy beklemtoon ook dat die Afrikaanse gemeenskap nie net wit is nie, ook nog nooit was nie.

            Foto – JBM Hertzog

 

Interessant om te sien dat dr. Johan Rupert, wat ‘n burger van Switserland is en daar woonagtig is, volgens die gesaghebbende Equilar Atlas, ‘n trustee van die Akademie is. ‘n Mens wonder dus namens wie praat hy as hy so af en toe iets oor die stand van Afrikaans te sê het.

 

Maar ‘n mens hoef nie te wonder oor die doelstelling en ideale van die stigters van die Akademie nie en diegene wat aan die spits daarvan gestaan het, totdat dit natuurlik vir politieke doeleindes gekaap moes word, soos: pres. M.T. Steyn, dr. D.F. Malherbe, dr. E.G. Jansen, prof. SPE Boshoff, prof. P.J. Nienaber, prof. Gerhard Beukes, prof. A.P. Grové om maar net ‘n paar te noem.

 

Miskien moet ons die ou taalslagspreuk: "doodkry is min" weer in ere bring ter gedagtenis aan diegene wat die Akademie opgerig het en nooit kon droom dat die nageslag dít sou toelaat wat nou gebeur nie.