Slim horlosies

Verskeie toonaangewende selfoonvervaardigers beplan om binnekort hulle slim polshorlosies vry te stel. Die ontvangs daarvoor deur die publiek is tans onseker.

 

Dit is bekend dat jong mense altyd die voorlopers is om nuwe elektroniese tegnologie te aanvaar, maar ‘n polshorlosie is vir hulle ‘n vreemde begrip en word nie op groot skaal deur hulle gedra nie. Die ouer generasie gebruik steeds in ‘n groot mate polshorlosies, maar hulle is nie so vinnig om die nuutste elektroniese tegnologie  te gebruik as die jonger generasie nie.

 

Apple werk al vir ‘n geruime tyd aan sy slim polshorlosie en die Suid-Koreaanse Samsung groep beplan om hulle slim horlosie in September vanjaar op die mark te plaas. Die Samsung produkte is redelik gewild onder Afrikaners, terwyl ander liewer voorkeur verleen om produkte van Westerse vervaardigers te ondersteun.

 

Dit word verwag dat die slim horlosie verskeie verrassings gaan inhou en dat die opsies wat gebied gaan word in die toekoms sal vermenigvuldig. Dit sal waarskynlik later die selfoon heeltemal vervang. Volgens Jeffrey Cole, ‘n direkteur van die Centre for the Digital Future, het mense alreeds begin om elektroniese instrumente aan hulle liggame te dra in plaas daarvan om dit vas te hou en sal die verskynsel verder toeneem.