Skenker-ma red tweejarige dogtertjie

 

Mev. Jenny Deetlefs (32) van Villieria, Pretoria is die eerste lewende mens wat ’n lewerskenker in die land is. Sy het etlike maande gelde haar dogtertjie,  Chloé, (2) se lewe gered toe sy besluit het om as skenker in te tree.

 

Jenny Deetlefs het ’n deel van haar lewer afgestaan wat toe oorgeplant is op die tweejarige dogtertjie. Dit is in die Donald Gordon- mediese sentrum in Johannesburg gedoen gedurende Maart vanjaar.

 

Chloé is gebore met ’n vernouing van buisies in en buite die lewer en kan tot chroniese lewersiekte lei.

 

Die suksesvolste behandeling is ’n leweroorplanting.

Die gesin het verlede jaar Kaapstad toe gegaan om hul name op ’n lys te kry in die hoop om ’n skenker te vind vir Chloé.

 

Die egpaar is later albei getoets om as skenkers in te tree, maar Jenny was die beste kandidaat.

“Dit was ’n moeilike besluit waarvoor ek glad nie gereed was nie,” het sy later gesê.

 

Die feit dat ma en dogter albei gesond is na die oorplanting, word deur die hele gesin as ’n wonderwerk beskou en die ouers sê hulle sal dit weer doen as dit eendag nodig sou wees.

“Dit is wonderlik om te dink sy loop met ’n stukkie van my in haar rond en dat ek eintlik twee keer die lewe aan haar kon skenk.”

 

Jenny was sewe weke in die hospitaal en haar dogtertjie drie weke.

Die egpaar se mediese uitgawes was baie hoog en heelwat daarvan is nog nie betaal nie. Die finansies is geraak deur die feit dat sy nie kon werk nie en waarskynlik eers weer in September haar werk kan hervat.

Foto- Chloé