Seun gedood in fratsongeluk

’n Fratsongeluk met ’n kettie het die dood van die 9-jarige Devon Pretorius van Edenvale aan die Oos-Rand veroorsaak.

 

Devon het met ’n kettie gespeel wat sy maats daar vergeet het. Op ’n stadium het hy die staal “mik” vasgetrap en die rekke uitgerek. Die mik het onder sy voet uit gegly en ’n deel daarvan het deur sy oog tot in die brein gesink.

 

 “Ek het net gesien hy sak terug op sy rug,” het sy broer Marcel gesê, sy broer te hulp gesnel, en toe sy ouers Elna en Tinus gebel.

 

Tinus was binne vyf minute by die huis. Elna het na die nooddienste by die huis aangekom. Devon was reeds bewusteloos en sou nie weer sy bewussyn herwin nie. Dokters het vasgestel dat hy ernstige breinskade opgedoen het en reeds breindood is.

.

“Ons het geskree, ons het gehuil. Jy wil weghardloop,” het Elna later gesê.