Sasol aangevat deur SAKP

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het sy misnoeë te kenne gegee omdat Sasol voortgaan om ‘n pretroleumaanleg in Louisiana in die VSA te vestig. Die aanleg, soortgelyk aan sy Secunda-opset, sal $20-miljard kos.

 

Die SAKP beweer dat Sasol hiermee ‘n ooreenkoms (“gentlements agreement”), wat in 2007 aangegaan was, verbreek. Die SAKP wil die saak verder voer tydens ‘n alliansie-byeenkoms die komende naweek en sal ook wil hê dat ‘n spesiale (eenmalige) belasting op die petroleum maatskappy gehef moet word. Sasol het homself verdedig deur daarop te wys dat hy die grootste korporatiewe belastingbetaler is met sy direkte en indirekte belasting van R15-miljard en dat 66% van sy bates in Suid-Afrika is.

 

Volgens die sekretaris-generaal van die Kommunistiese Party, Blade Nzimande, sal daar tydens die byeenkoms besin moet word oor die “her-kalibrasie” van die land se makro-ekonomie; en dat dit onaanvaarbaar is dat groot maatskappye meedoen aan deïnvestering, terwyl die land dit nie kan bekostig nie.