SAP: “Eerlikheid” kan gevaarlik wees.


Motorhandelaars in Hercules, in die weste van Pretoria, sê hulle kry stank vir dank nadat een van hulle in hegtenis geneem is toe hy ‘n gesteelde voertuig wou aanmeld.

Sowat 30 handelaars in gebruikte motors het gister voor die Hercules-polisiekantoor saamgetrek om hul misnoeë oor die inhegtenisneming uit te spreek.

Die gevolg hiervan is dat die soveelste siviele eis teen die polisie aanhangig gemaak gaan word.

Dit kom nadat die ‘n motorhandelaar, onwetend ‘n gesteelde voertuig gekoop het. Die oomblik wat hy dit agtergekom het, het hy dit na die polisiekantoor geneem. Daargekom, is hy in die woorde van kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, gearresteer weens die besit van ‘n gesteelde voertuig.

Hy het die aand in die polisieselle deurgebring en is die volgende dag vrygelaat, sonder dat hy aangekla was.

Jan Nel woordvoerder van die groep motorhandelaars het gesê hulle word maandeliks tot sowat drie gesteelde voertuie aangebied. Hulle meld dit aan en verloor die geld, maar nou word hulle gearresteer net omdat hulle eerlik is.

Die gewone verklaring is uitgereik dat die saak ondersoek word, maar potensieël is hier weer ‘n vorm van vergrype waarvoor die belastingbetaler sal moet instaan.