Rekrute aanvaar, toe afgekeur

 

Die ouers van 14 rekrute is woedend nadat die lugmag hulle op mediese gronde afgekeur het, nadat hulle gemeen het hulle is reeds aanvaar.

 

Sommige van die rekrute, wat van sover as Kaapstad en Port Elizabeth gekom het, het hulle studies laat vaar.

 

Die ouers beweer dat die lugmag nie oop kaarte met hulle gespeel het nie. Die kinders het reeds in Junie psigometriese en mediese toetse in Potchefstroom afgelê. Op 13 Julie het hulle ‘n oproep van die lugmag se werwingskantoor gekry waarin hulle gesê is dat hulle in Hoedspruit moet aanmeld vir opleiding.

 

Ondanks verskeie versoeke dat die lugmag hulle vooraf van briewe of dokumentasie oor die aanstellings moet voorsien, is hulle verseker dit sal alles in Hoedspruit afgehandel word. Die rede vir die ouers se aandrang op dokumentasie is die feit dat ‘n paar van die kinders besig was met studies.

 

Maar enkele dae nadat hulle by Hoedspruit aangemeld het, is 14 van hulle weens mediese redes afgekeur. Hulle kan nou ook nie hulle studies voortsit nie, want dit is reeds gekanselleer.

 

Brig-genl. Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, het gesê dis jammer dat die aansoekers nie voor hulle vertrek na Hoedspruit ingelig is dat hulle nie aan die vereistes voldoen nie. Volgens hom moet die ouers die lugmag kontak en uitvind wat het gebeur – iets wat die ouers vrugteloos voor die rekrute se vertrek gedoen het.