Reg ‘n slag-ting

Ek besef dat Suid Afrika alle moontlike pogings aanwend om hand-om-die-blaas te wees met elke enkele land in die wêreld. Ons ministers spandeer meer ure in die lug as op kantoor om hierdie “bande te bou”, ja selfs die Ministers van Onderwys, Binnelandse Sake, Vervoer, Landbou en sou daar ‘n “Minister van Plaaslike sake en inisiatief vir interne landsbelang en eie oplossings vir eie uitdagings” wees, sou sy ook haar oorgewig agterstewe in die sitplekke van lugmagstralers inforseer soos die wenner van die “wie kan die meeste malvalekkers in sy mond kry” kompetisie se vyf en twintigste malvalekker, om in die buiteland by niebestaande eweknieë te gaan leer.

Maar wat as ‘n vertaler op een van hierdie buitelandse besoeke per abuis een of ander beledigende ding, wat een van hierdie semi-geskoolde ministers onwetend kwytraak, reg vertaal en daar die land wil oorlog maak? Wat dan!?

Wel, die weermag sal dan hul staal moet wys. Die probleem is net dat ‘n deel van die staandemag nie gebruik kan word nie aangesien hulle hul posisie weggee elke keer as hulle skree omdat die kraampyne al hoe erger word. Wat oorbly van die voetsoldate het nou die dag weggehardloop vir ‘n klomp tsotsi’s met ketties in die SAR en word nog behandel vir skok.

Dit beteken dat ons sterk sal moet staatmaak op ons lugmag. Die probleem daarmee is dat die laaste begroting die “mag”  deel van die lugmag se geld drasties ingeperk het om die bbp-vervoer afdeling meer te kan gee. Die helfte van die vliegtuie is dus besig om oorlaaide ministers met vakansies/amptelike staatsbesoeke te vervoer.

Die splinternuwe vegvliegtuie wat die oorlog definitief vir die land sal wen is ongelukkig weens geldtekorte onbewapen. Dit het wel uitstekende “GPS” en kan by lugskoue uitgestal word! (Ook daarheen word dit per pad vervoer aangesien daar nie vliëniers in die lugmag is wat hulle kan vlieg nie)….

So daar is bepaalde swakpunte, maar die land het darem nog altyd ‘n uitstekende vloot! Daar is immers ‘n taamlike stukkie kuslyn om te verdedig aan hierdie land. Die vloot is dus die hoop! Ja, die hoop, die hoop skrootmetaal!

Die duikbote wat in 2002 aangekoop is het net onderdele gehad vir 5 jaar wat beteken dat die hoogs gesofistikeerde tegnologiese wonders nou waarskynlik aangedryf sal moet word met  tweedehandse Land Rover enjins. Verder het dit 8-10 jaar geneem om die Franse Daphne duikbote te leer beman. Die aanvallers sal dus versoek moet word om die aanval met 10 jaar uit te stel tot die reënboogvloot kon uitmaak watter knoppie wat doen. Selfs dan sal hulle net 131 dae van die jaar kan aanval, want dis al waarvoor daar geld is om die fregatte te gebruik.

Tot die volgende slag wat ek my gedagtes weermag deel…

Die Sweep