R2,241 miljard ongemagtigde uitgawes.

Ongemagtigde uitgawes ten bedrae van R2,241 miljard vir die jaar 2011-’12 deur Vrystaatse munisipaliteite is 64% meer as die vorige jaar, het Terence Nombembe, die ouditeur-generaal in sy jaarverslag bevind.

 

Waarnemers sê dat hulle nie deur die bevinding geskok is nie aangesien die premier, Ace Magashule, nie amptenare wat weens korrupsie aangekla is, verantwoordelik hou nie.

 

Die OG het gevra vir sterk optrede teen politieke leiers en munisipale amptenare wat doelbewus of nalatig hulle pligte verontagsaam en nie wette nakom nie. Hy sê ‘n tekort aan mense wat verbind is tot goeie werk is die wortel van die swakhede met dienslewering.

 

By al die munisipaliteite is konsultante ingespan om finansiële state op te stel, omdat daar ‘n gebrek aan tegniese vaardighede by 84% van dié instellings was.

 

Die gebrek aan enige gevolge vir amptenare wat droogmaak, is by 96% van die munisipaliteite aangetref. Die bestuur hou nie die personeel verantwoordelik vir swak werk nie.

Foto – Terence Nombembe