Presteerders het "lied in die hart"

Baie geluk aan die Blokfluit-ensemble van die CVO Moot wat deel is van die wenstreek, Sentraal-Transvaal, wat die Nasionale Kultuurfeestrofee verower het tydens die pas afgelope Kultuurfees van BCVO-skole op Brakpan. Altesaam vyf streke van regoor die land het aan die kultuurfees deelgeneem.

 

Bekende volksliedjies is deur die Blokfluit-ensemble gespeel, terwyl marimbas, trekklaviere en klavierbegeleiding kleur aan die items verleen het. Dié Gr. 4 – 7 leerlinge en hul entoesiastiese musiekonderwyseres, dr. Sanderi Oosthuysen, het uitstekende terugvoer gekry tydens die kultuurfees. Die pad lê vir hulle oop na hul deelname aan die Kultuurfees.

Dr. Oosthuysen beoog om ‘n Blokfluitinstituut op die been te bring en hoop om oorsee te gaan toer met die eg Afrikaanse volksliedjies wat die talentvolle Blokfluit-ensemble uitvoer. Elke tree nader aan die bereiking van hierdie ideale word begelei met haar visie, soos verwoord in ‘n gedig wat sy geskryf het:  

 

"Laat my volk se kinders

weer musiek leer en lees, sing en speel

en huppel deur die lewe en my land

met ‘n lied in die hart

en ‘n blokfluit in die hand".

Nogmaals baie geluk aan al die Kultuurfees se deelnemers en presteerders!  Dr. Sanderi Oosthuysen kan gekontak word by: 079 898 2510.