Poskantoor lewer brief af na 16 jaar

Ouma Soekie Kruger stuur ’n tjek van R100-00 aan haar twee kleinkinders, en dit per “spoedpos”,  sodat hulle die Kersgeskenk betyds sal kry.

Maar dit is eers 16 jaar later dat die kinders, toe yslik groot, kon dankie sê vir die tjek.

 

Mev. Kruger woon in Sedgefield en het 16 jaar gelede, op 19 Desember, die tjek aan haar kleinkinders gestuur wat op Steytlerville woon.  Hulle moes die tjek twee dae later gekry het en kon dan nog vir hulle geskenkies gaan koop het. Dit gebeur toe nie.

 

Die koevert kom toe op 1 Augustus 2013 onder ’n kluis uit in die poskantoor.

Colin kry ’n oproep van Steytlerville-poskantoor en word meegedeel dat daar ’n

prioriteit-posstuk vir hom is om af te haal.

 

Daar kry hy die tjek wat sy ma vir sy kinders gestuur het.

Die poskantoor personeel sê hulle het skoongemaak en toe op die brief afgekom.

Kleinkind Roiveré, ’n eerstejaarstudent in Stellenbosch, het haar ouma gebel en haar hartlik bedank en Henrieke is nou ’n onderwyseres by ’n skool in Port Elizabeth.

 

Al het die tjek waardeloos geword, is die sentimentele waarde daarvan vir die familie van veel groter waarde as die bedrag.

Die gebeure staan in kontras met die rekord tyd waarin ’n posstuk in Suid-Afrika afgelewer is deur die Poswese toe ’n koevert op ’n Dinsdag oggend in 1963 gepos is in Pretoria en die volgende oggend 11.45 was dit oorhandig aan die ontvanger daarvan in Burgersdorp, Oos-Kaap, sowat 750 km verder.

 

In ’n ander geval het ’n man na 34 jaar ’n posstuk ontvang wat sy meisie aan hom gestuur het.