Polisie se blanke-haat kos geld

Die Suid-Afrikaanse regering se Minister van Polisie moet mnr. Jan Coetzee (39) van Nelspruit in die Laeveld,  vergoed weens die wreedaardige optrede van polisiebeamptes.

 

 Mnr. Coetzee is deur die polisie uitgeskel as ’n “white bastard” en hy is herhaaldelik met rubberkoeëls geskiet.

 

Hierdie haatdraende optrede van die polisie het daartoe gelei dat die Hooggeregshof in Pretoria beveel het dat die Minister 100% aanspreeklik gehou word vir die skade wat mnr. Coetzee kan bewys.

 

Mnr. Coetzee eis R878 000.

 

In hofstukke word genoem dat polisielede hom by sy huis geskiet en met peper-sproei bespuit het. Later is hy by die Nelspruit-polisiekantoor geskop en geslaan.

 

Vir 4 dae is hy onder polisiebewaking in die hospitaal gehou en met boeie aan die bed vas gemaak.

 

Volgens Coetzee se verklaring voor die hof was hy nie betrokke by dié aangeleentheid waaroor die polisie opgetree het nie, en hy was besig om vleis te braai by sy huis.

 

Ongeveer 12 polisielede met koeëlvaste baadjies en swart pette het opgedaag en met hewige aggressie teenoor hom opgetree toe hy vra of hulle ’n lasbrief het.

 

Die polisie het hom toe blykbaar toegetakel en nege keer geskiet met rubber koeëls.