Pianis laaste toer in SA

Die legendariese pianis, David Helfgott, se laaste optrede in Suid-Afrika, vind op 7 September in die ZK Matthewssaal by Unisa plaas.

 

Helfgott het bekendheid verower na die Oscarbekroonde rolprent, Shine, wat op sy lewe en sielkundige probleme gebaseer is. Die rolprent het mense dwarsoor die wêreld aangegryp oor die inspirerende verhaal van ‘n man wat met sy talent en die liefde en bystand van sy vrou, weer ‘n lewe as ‘n suksesvolle konsertpianis kon aanpak.

 

Ook in Suid-Afrika was sy optredes gewild en goed ondersteun, maar na 20 jaar van uitgebreide toere oor die wêreld, het hy nou besluit om sy toerskedule af te skaal.

 

Die bewondering wat Suid-Afrikaners vir Helfgott het is wedersyds. Hy was altyd lief om hier op te tree en bereid om vir sy waarderende gehoor een toegif na die ander te speel.

 

Hierdie sal die laaste geleentheid wees om dié buitengewone kunstenaar lewendig op die verhoog te ervaar. 

Foto – David Helfgott