Pa ry sy kind dood

Mnr. Martin Kruger (35) van Dewetsdorp het die een oomblik nog met sy klein eenjarige dogtertjie gepraat, en oomblikke later was sy dood nadat hy oor haar gery het.

 

Hy sê ’n deel van sy eie lewe is weg na die tragiese gebeurtenis toe hy sy liefling dogtertjie, Anika, per ongeluk dood gery het.

Hy het Anika nog die middag nadat hy by die huis gekom het, opgetel toe sy met haar uitgestrekte armpies na hom geloop het.

 

Martin het nie gesien sy volg hom van die agterdeur af nie, nadat hy haar neergesit het, om gou iets op die dorp te gaan kry.

“Ek het omgekyk om te kyk waar sy is, want ek weet sy is gedurig buite. Ek het haar nie gesien nie en het aangeneem sy is die huis in en kyk dalk TV saam met haar sussies.”

HY sê die bakkie het nie eers 2 meter agteruit gegaan nie toe hy ’n vreemde geluid gehoor het. Hy het geweet iets is fout, en toe hy uitklim was sy langs die bakkie se wiel en reeds dood. Die begrafnis is Vrydag.

 

’n Tyd gelede het ’n soortgelyke ongeluk in die Harrismith omgewing gebeur.