Ons koerant word wyd gelees


Gedurende die afgelope weke het ons tegniese manne baie ure ingesit om die “Nuus wat saakmaak” blitsvinnig op die voorblad te kry, vir vyf dae van die week, elke dag.

Hierdie nuwe tendens is moontlik gemaak te midde van die e-koerant se enorme groei tempo wat so vinnig en so groot is dat ons genoodsaak was om met ’n verbeterde werksmetode na vore te kom ter wille van ons derduisende lesers.

Die Vryburger sal in die toekoms van Maandag tot Vrydag, die jongste nuus wat werklik saakmaak, aan sy lesers beskikbaar stel. Ons het deur middel van die tegnologie die stelsel verbeter om nuus blitsvinnig aan lesers bekend te maak.

Na verwagting sal Die Vryburger binnekort nog meer nuus aan lesers bring oor wat beplan word om vêrdere uitbouing van die koerant te bewerkstellig.

Lesers sal ook sien dat die skrif verander het en nou in ’n veel makliker leesbare grote geskryf word. Dit sal veral diegene wat sukkel om die kleiner skrif gelees te kry, aansienlik help.

Volgens rekords op die webblad het die lesers getal in Julie dramaties gestyg. Dit het die redaksie genoop om weereens te besin oor wat aangebied word terwyl dit duidelik word dat Die Vryburger aan ’n langverwagte behoefte voldoen.

Alhoewel ons nog groeipyne met die vinnige plasing van berigte ondervind, glo ons dat die tegniese span eersdaags met oplossings na vore sal kom. Sommige berigte se skrif is ook nog nie van die beter leesbare nie, maar ons werk daaraan.

Intussen wil ons elke leser bedank vir hulle geduld, entoesiasme en ywer om Die Vryburger verder uit te bou.

Ons koerant word wyd oor die wêreld gelees. In Rusland is volksgenote wat sê hulle kyk elke oggend eers watter nuwe nuus Die Vryburger bied. Uit die Verre Ooste, oor die hele Europa, die VSA en Kanada, selfs uit Suid-Amerika, Australië en New-Seeland lees mense gereeld die koerant wat nou deel geword het van hulle huishoudings.

Daarom sal Die Vryburger se redaksie net glimlag oor diegene wat nou probeer om die kalklig te steel deur ons berigte met foto’s en al, te “steel” asof dit hulle eie produksie is.

Redakteur