Nuusflitse

·        Sasol se finansiële hoof, Christine Ramon, tree in September ná sewe jaar by die maatskappy uit. Sy sal ook bedank as direkteur van Sasol en as direkteur van alle filiale en entiteite van Sasol waarvan sy ’n direkteur was.

·        Suid-Afrika is al geruime tyd nie meer ’n Christelike land nie, het dr. Isak Burger, president van die Apostoliese Geloofsending, gesê.

·        Minstens een miljoen kakkerlakke het ontsnap van ’n Chinese plaas waar hulle aangeteel is vir gebruik in tradisionele Chinese medisyne.

·        Die 14 Potchefstroomse ANC-stadsraadslede wat geskors is omdat hulle saam met die DA teen hul eie party gestem het, is terug by die ANC.

·        Twee koperkabel diewe in die Vrystaat, teen wie aanklagte vroeër deur die vervolgingsgesag teruggetrek is, maar daarna wéér deur die ondersoekspan vasgetrek is, is gesamentlik 270 jaar tronkstraf opgelê.

·        Skoolhoofde in die Wes-Kaap stem saam dat die onderrig van Afrikatale in skole nie sal slaag nie as die Departement van Onderwys voortgaan om ’n beleid sonder konsultasie op te stel.

·        Onbekende sluipskutters het gister ’n ondersoek van ’n VN-span na die gifgas-aanvalle verlede Woensdag in die buitewyke van Damaskus probeer keer.

·        Meer tweelinge en meerlinge word deesdae gebore as ooit tevore. Dit is omdat al hoe meer vroue vrugbaarheidsbehandeling kry en dit hul kanse op meerlinge verhoog.

·        Cassel Mathale, voormalige premier van Noord-Transvaal, se vrou, Mokgadi Kgohloane, het in die hof verskyn vir beweerde bedrog en onwettige mynbedrywighede, het die Valke gesê.

·        Die welvarende sakeman ­Kenny Kunene, die sogenaamde “soesji-koning”, het nou ook sy lidmaatskap van Julius Malema se nuwe Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) prysgegee. Hy is ’n stigterslid.