Nuusflitse

·        Rusland se sportminister het gesê gay atlete is welkom om aan die 2014 Olimpiese Winterspele in Sochi deel te neem solank hulle ‘n nuwe wet, wat “homoseksuele propaganda” verbied, gehoorsaam.

·        ‘n Amerikaanse toeris is na bewering deur drie musikante doodgesteek by ‘n gewilde vakansieoord in Thailand, omdat hy nie wou ophou sing nie.

·        ‘n Vermeende dwelm-muil is vrygespreek nadat sy aan ‘n regter in Doebai gesê het sy was nie bewus van die 3 kg kokaïen in haar bagasie nie.

·        ‘n Taakspan is in die lewe geroep om die finansiële probleme by die SABC uit te sorteer, het Yunus Carrim, Minister van Kommunikasie, gesê.

·        Jemima Khan het onthul dat haar vriendin, wyle prinses Diana so “mal verlief” was op Hasnat Khan dat sy oorweeg het om na Pakistan te verhuis.

·        Die Gautengse departement van gesondheid het in Junie R2,3 miljoen aan salarisse bespaar. Dít volg nadat 120 werknemers by drie hospitale nie opgedaag het vir ‘n verifikasieproses nie

·        Die VSA het ‘n wêreldwye reis waarskuwing uitgereik om sy burgers te waarsku teen terreuraanvalle, veral in die Midde-Ooste en Noord Afrika. Die departement van buitelandse sake het in ‘n verklaring gesê dat hy inligting ontvang het wat aandui dat Al-Kaïda aanhou om terreuraanvalle te beplan, en moontlik in Augustus die aanvalle kan uitvoer. 

·        Vyf rowers het by ‘n winkel in Oos-Londen ingebreek nadat hulle met ‘n bakkie deur die veiligheidshek gery het.

·        Die Nelson Mandela-stigting se sentrum van herinnering het benadruk dat ‘n vooraf-kennisgewing wat by Mandela se huis afgelewer is, verkeerd is. Sello Hatang sê die kennisgewing van ‘n rekening van R6, 468.48 wat agterstallig is, is by die verkeerde adres afgelewer.

·        Twee jong seuns is in Kanada deur ‘n luislang doodgedruk wat uit sy hok in ‘n troeteldierwinkel ontsnap het. Volgens polisie konst. Julie Rogers-Marsh van die Royal Canadian Mounted Police het die twee broers, onderskeidelik vyf en sewe jaar oud, in ‘n vriend se woonstel bo die winkel geslaap toe hulle doodgedruk is.

·        Verkleurmannetjies van Afrika het miljoene jare gelede op dryfhout en seestrome versprei om Madagaskar en die Seychelle te bevolk. ’n Grootskaalse DNS-analise van hul evolusionêre oorsprong het nou getoon dat dié hoogs gespesialiseerde tak-akkedisse in Afrika ontstaan en hiervandaan versprei het.

·        Marilyn Ramos, Mej. Suid-Afrika, wil per fiets van Hoedspruit in Limpopo tot in Kaapstad ry om mense van die erns van renosterstropery bewus te maak.

·        ‘n Sweedse pa se motor het vier keer gerol toe hy paniekbevange geraak het toe sy vrou in die voertuig geboorte skenk. Mokhles Raheema, sy vrou en die pas gebore baba is wonderbaarlik nie ernstig beseer nie.

·         Die Jomo Kenyatta Internasionale lughawe in Nairobi is vir alle lugverkeer gesluit nadat ‘n vernietigende brand daar uitgebreek en groot skade aangerig het.

·        n Waaghals het Dinsdag in die VSA veilig met ‘n valskerm aarde toe gesweef nadat hy uit ‘n vliegtuig gestamp is terwyl hy geboei in ‘n kis gelê het.