Nog ‘n knou vir die Seriti-kommissie.

‘n Verdere knou is die Seriti-kommissie wat die wapen-skandaal ondersoek toegedien, met die aankondiging dat ‘n ondersoek deur die Britse Accountancy and Actuarial Discipline Board (AADB) teen die groot finansiële dienste en ouditeursfirma, KPMG laat vaar is.

 

Oor die afgelope 10 jaar was KPMG kort-kort in groot skandale betrokke gewees en is hulle deur groot instansies soos banke en Siemens vir skadevergoeding a.g.v. foutiewe state en inligting betrokke by groot oornames, gedagvaar.

 

Die ondersoek wat nou laat vaar is, het gehandel oor omkoopgeld waarby die Duitse fregat-konsortium (GFC) en Brittanje se grootste wapenveraardiger, BAE Systems, na bewering betrokke was.

 

In Brittanje is KPMG ondersoek in verband met drie frontmaatskappye wat hulle van 1997 tot 2007 vir BAE geoudit het. Miljarde rand se omkoopgeld is glo via dié maatskappye aan Suid-Afrikaanse politici en sakelui betaal.