Nog miljoene Rand in “landbou-projekte”

Die Nasionale Departement van Landbou en landelike ontwikkeling het nog etlike miljoene Rand aan twee projekte bestee in die Vrystaat om te probeer verseker dat sukses behaal word nadat vorige pogings totaal misluk het.

 

Gugile Nkwinti, die betrokke Minister van Landbou het die Makholokoeng aartappel verpakkingsaanleg asook die Diyatalawa melkery en besproeiingsprojek naby Harrismith  van nuuts af bekend gestel.

 

Die besproeiingsprojek is ’n poging wat reeds in 2004 begin is maar gestop moes word weens “probleme met die infrastruktuur”.

 

Die Landbou Departement het ook die aartappel verpakkingsaanleg in 2011 begin, maar dit het ook in chaos geëindig.

 

Mphuti Ntswaki (23), voorsitter van die projek sê hulle beleef uitdagings want hulle sukkel nog met masjinerie, elektrisiteit en water en kry nie die aartappels gewas nie omdat die boorgat-toerusting is deur skelms gesteel. Nege mense werk in die projek.

Ntswaki sê hulle ly verliese met die verkoop van die aartappels.

 

Die besproeiingsprojek wat aan die gang gesit is met miljoene Rand se investering, lewer op sy beurt 120 liter melk per dag aan Nestlé. Daar is tans 60 beeste.

 

Altesaam 33 swartmense is begunstigdes van die projek.

Hulle wil van volgende jaar af die melk in sakkies verpak en teen ’n hoër prys aan ondernemings verkoop. Nog sowat R3 miljoen gaan vir masjinerie geskenk word.

Foto- Minister Gugile Nkwinti