Munisipaliteit Bloemfontein se “inkopies”

Bloemfontein se inkopies begin met ’n spoggerige splinternuwe Jeep Cherokee ter waarde van sowat R1 miljoen wat bedoel is vir dié Metro se Burgemeester, Thabo Manyoni van die ANC.

 

Tweede op die lysie is ’n blink nuwe BMW X5 met ’n pryskaartjie van R800, 000 wat geoormerk is vir die stad se adjunk-burgemeester, Connie Rampai.

 

Die inkopies is gelyktydig gedoen en “op huurkoop” aangeskaf gedurende dieselfde tyd as wat die Metro sy nuwe swaarvoertuie aangeskaf het ter waarde van R175 miljoen  met die bedoeling dat die huidige swak dienslewering verbeter kan word.

 

Ene Qondile Khedama, kommunikasiehoof van dié Metro het bevestig dat die inkopies op huurkoop gedoen is “want dit hou voordele in”.

 

Verder wil die Metro graag hê sy eerste en tweede burger moet in ordentlike voertuie ry.

 

’n Groot aantal veelkleurige eko-vullishouers staan agter die Departement van Parke opgestapel en is besig om stof op te gaar.

 

Die vullishouers is verlede jaar November aangekoop. Die aankope van die 100 veelkleurige houers is vir R4 miljoen gekoop om die stad netjies te hou.

 

Die bedoeling is ook om die publiek oor herwinning op te voed én om werk te verskaf.

 

Manyoni het gesê dit is die eerste fase van ’n herwinning-projek wat werk aan 100 mense gaan gee.

 

Die werkers sou dan elk ’n stootwaentjie met vier herwinning-houers kry, ’n geel houer  vir papier, ’n groene vir alle soorte glas, ’n rooie vir metaal en ’n bloue vir plastiek.

 

Die houers se 80 stootwaentjies is teen R40, 000 elk aangekoop. Hiervan staan meer as die helfte nog steeds ongebruik terwyl ander kwalik in gebruik is.