Motor rubriek – Volkswagen Polo Vivo Maxx

Uit die bekende Duitse stal van Volkswagen kom ’n opgegradeerde weergawe van die Polo. Bykomede krag maak dit moontlik om hierdie motor nog meer te geniet. Alhoewel die verkope daarvan nie ongekende hoogtes bereik nie, is dit baie gewild en getroue Volkswagen ondersteuners behoort die vuurwa ten volle te geniet.

 

Dit is in die intree-prysklas en veral gewild onder die jonger geslag. Die motor is gebaseer op die Vivo 1,6 liter Trendline, maar met die verhoogde grondvrye ruimte van 115 mm na 141 mm, skep hy ’n gunstige indruk.  Die17 duim allooi wiele word gebruik en kleurgekodeerde spieëltjies rond die buite afwerking af. Dubbel uitlaatpype en sport strepe aan die onderkant van die deure verhoog die sportiewe afwerking van die voertuig verder. Die binne- afwerking is ook verbeter met die titanium  afwerking.

 

Die rygerief is gelykstaande aan die van die Vivo GT en met ’n gewillige 1.6 liter enjin gepas is dit nie ’n uitgerekte proses om by ander voertuie verby te gaan nie. 77 kW is beskikbaar vanaf  5250 o.p.m. en 155 Nm wringkrag vanaf 3500 o.p.m. en die brandstofverbruik is 7,92 liter/100 km. Die vyfspoed handratkas maak dit ’n plesier om die voertuig te bestuur. Wanneer die ratkas gebruik word om meer wringkrag te verkry en die verbygaan tyd te verkort, word die voertuig tot sy maksimum doeltreffendheid aangewend. Die verhoogde grondvryhoogte het tot gevolg dat daar bakrol ondervind word maar dit het nie ’n negatiewe invloed op die padhouvermoë nie. Inteendeel, die padhouvermoë is van hoogstaande gehalte.

 

Die standaard binneafwerking sluit in elektriese vensters, lugversorging, drie-speek leerbedekte stuurwiel en verskeie veiligheid kenmerke soos lugsakke, sentrale sluitstelsel, ABS met EBD remme ens. Die gemiddelde remtydperk van 100 tot 0 km/u is 3,1 sekonde. Hierdie remtyd word as “goed” beskou.

 

Volkswagen entoesiaste kan gerus hierdie voertuig gaan toetsbestuur.