Motor rubriek – Toyota Lexus LX570

 

Sedert Toyota die motormark in S.A. betree het, het daar baie water in die see geloop en die motorvervaardiger het van krag tot krag gegaan. Nie net is motors in gebruik geneem nie maar ook die bakkie-wêreld is betree. ’n Aantal jare gelede het hulle ook die luukse motormark  betree met die bekendstelling van die Lexus en nie lank daarna is die Sport Nuts voertuig mark betree met die bekendstelling van die opposisie voertuig teen Land Rover nl. die Lexus LX.

 

Dit is gebaseer op die Landcruiser 200 maar deur gebruik te maak van luukshede is dit geplaas in ’n klas van sy eie. Wanneer dit die teerpad verlaat en dit word in die veld gebruik, word die bestuurder verras met ’n rit wat nie maklik vergeet word nie. Dit voel nie of daar ’n verskil is tussen ’n veldrit en die snelweg nie. Van satelliet navigasie, elektries beheerde sitplekke, verstelbare suspensie, outomatiese ratkas, V8 enjin en jy noem dit en dit is daar. Dit is selfs ’n heel bruikbare voertuig wanneer paaie met slaggate gebruik word.

 

Die binne afwerking is van hoogstaande gehalte. Wanneer jy jouself gemaklik gemaak het agter die stuurwiel, die sitplek posisie elektries verstel het sodat dit jou pas, voel dit meer asof jy in die sitkamer by die huis is, as in ’n voertuig. Die outomatiese klimaatbeheer verseker dat die temperatuur binne-in die voertuig voldoen aan al die vereistes benodig vir ’n gerieflike rit.

 

Die Lexus LX570 se tegniese inligting is inderdaad indrukwekkend. ’n 5,7 liter, V8 petrol enjin met 32 kleppe en dubbel oorhoofse nokas enjin word gebruik. 270kW is beskikbaar teen 5600 o.p.m. en 530Nm wringkrag is beskikbaar vanaf 3200 o.p.m. Die brandstof verbruik soos deur die vervaardiger verklaar, is 14,8 liter/ 100 km/u. Die brandstofhouer neem 93 liter brandstof wat ’n aansienlike reikafstand voorsien.

 

Teen ’n prys van R1,178,000 is dit in ’n prysklas waar dit goed vergelyk met ander voertuie, die Sport Nuts klas.