Motor rubriek – Porsche Cayenne Turbo S

 

Die Porsche Cayenne is nog ’n suksesverhaal afkomstig van hierdie bekende motor-vervaardiger. Aanvanklik was daar baie kritiek uit die motorwêreld toe dit bekend geword het dat Porsche hulle op hierdie terrein gaan begewe maar hulle kon moeilik ’n beter besluit geneem het. Dit is een van die grootste suksesverhale in die motorbedryf. Die Cayenne Sport Nuts Voertuig is ’n kombinasie van luuksheid, krag, gerief en nog vele meer in een voertuig.

 

Op papier is dit reeds ’n indrukwekkende “Sport Nuts Voertuig” maar wanneer dit op die verskillende terreine bestuur word besef ’n bestuurder eers waartoe dit werklik instaat is. Die 4,2 liter V8 turbodiesel enjin se vermoëns is ongekend. ’n Turboaanjaer word op elke silinderbank gebruik en die saamgeperste lug word deur een lugfiltreerder gestuur waarna dit verkoel word om dan in die enjin in gestuur te word. Brandstof word direk in die enjin ingespuit teen ’n drukking van 2000 bar. Vir so ’n groot enjin met soveel krag is die brandstofverbruik bykans ongelooflik. ’n Verbruik soos deur die vervaardiger aangedui, is 8,3l/100km.

 

Die krag beskikbaar teen 3750 o.p.m. is ’n handige 281kW en die wringkrag teen 2000 o.p.m. is ’n kolossale 850 Nm. Die binneruimte agter in die voertuig is 670 liter voordat die rugleunings plat gevou is. Die brandstofhouer neem 100 liter en bied ’n reikafstand van nagenoeg 800 km. Die sleepgewig is ’n handige 1800 kg en die grondvryhoogte is 215 mm.

 

Vir motoreienaars met R971,000 in die sak en ’n behoefte vir die tipe voertuig, kan dit gerus oorweeg om een aan te skaf.