Minister kry groter seggenskap.


Die Minister van Omgewingsake gaan in die nabye toekoms die laaste sê hê oor omgewingskwessie wat mynbou betref.

Haar Departement gaan die oppergesag wees by die goedkeuring en regulering van myne, het Edna Molewa, die Minister, gesê aan sowat 150 belanghebbendes wat in Kempton Park met haar vergader het.

Die proses gaan nou meer vaartbelyn wees, sê sy, aangesien die Minister van Minerale Bronne, Susan Shabangu, ook by die goedkeuring betrokke sal wees, wat ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) gedoen moet word.

Die Dept. van Minerale Bronne het in die verlede sy eie omgewingswetgewing toegepas wat die proses om myne goed of af te keur onnodig vertraag het, het sy gesê.

Op vrae oor sensitiewe gebiede waar myne bedrywig is, het Molewa gesê “die grawey” moet stop gesit word. Oor veldtogte om myne uit Chrissiesmeer en Wakkerstroom te hou, het sy gesê: “As ons myne uit sekere gebiede wil hou, het ons goeie wetenskaplike bewyse nodig.”