Melkboere bly hoopvol

Daar is aanduidings dat die vooruitsigte vir Suid-Afrika se melkbedryf kan verbeter.

 

Tydens die afgelope jaarlikse kongres van MPO (Vrystaat Melk Produseerdersorganisasie) het die hoofuitvoerende beampte van SA Melk Produseringsorganisasie, Bertus de Jongh, gesê dat die uitbreiding van middelklas produseerders positiewe implikasies vir die bedryf inhou. Die siening is ook deur Johann Kirsten, ‘n landbou ekonoom ondersteun en hy het gesê dat daar aansienlike groei verwag kan word deurdat die ekonomie enersyds herstel en ook dat verbruikersvoorkeure na suiwelprodukte toeneem.

Alhoewel suiwelprodukte lankal nie meer goedkoop vir die verbruiker is nie, beteken dit nie dat die melkboer, as primêre produsent, volhoubaar vergoed word nie. ‘n Melkboer moet op grootskaal produseer om te oorleef. ‘n Ondersoek oor die bedryf in KwaZulu Natal het in 2003 getoon dat optimale produksie tussen 100 000 tot 170 000 liter per jaar moet wees.

Daar word nie altyd besef dat die melkbedryf die vierde grootste landboubedryf in die land is nie en dat die ongeveer 4 000 produsente sowat 60 000 plaaswerkers het. Suiwelprodukte is benewens melk, ook botter, kaas, roomys, melkpoeier en jogurt en voorsien in ‘n belangrike daaglikse behoefte van elke mens.