Massiewe kontrak gefinaliseer vir Denel

Denel het so pas sy grootste kontrak is sy hele geskiedenis finaal vasgemaak gedurende verlede week en sal sowat R9 miljard beloop.

 

Die kontrak sal blykbaar oor ’n hele aantal jare duur en werksekerheid bied aan die 2,000 amptenare van Denel. Die kontrak, wat sy aanloop reeds in 2006 gehad het, is nou eers gefinaliseer.

Die oponthoud met die kontrak word glo aan die deur van lt. genl. Mojo Motau, die direksie se voorsitter van Krygkor, asook Refiloe Mokoena, sy adjunk, gelê, wat ook tot hulle afdanking gelei het.

Twee dae nadat die twee seniors afgedank is, het ’n inligtings memorandum van Denel aangedui dat die kontrak bekom is.

Die Projek Hoefyster, soos dit bekend staan vir die gevegsvoertuig-kontrak, sal blykbaar baie vinnig met sy eerste fase begin. Die voorlopige beplanning is om die 238 voertuie, bekend as Badgers, oor ’n tydperk van tien jaar te vervaardig.

 

Denel het ses jaar gewerk daaraan om die Badger te ontwerp en die kontrak te onderhandel.

Kenners sê dit is kommerwekkend dat daar so lank gesloer is met die finalisering en daardeur die wapenbedryf van Suid-Afrika in totale onsekerheid geplaas het. Dit het tot gevolg gehad dat talle hoogs opgeleide mense die bedryf verlaat het om elders ’n heenkome te vind.