Ma wil nie nog ’n kind verloor nie

"Ek kan nie nog ’n kind verloor nie. Geen ouer kan dit twee keer deurstaan nie.”

 

Mev Hannetjie Meyburgh (32) van Delmas wie se seuntjie, Dihan (2), die afgelope jaar ’n gereelde pasiënt in die Biko-hospitaal in Pretoria is, het die woorde geuiter nadat bevind is dat haar seuntjie dieselfde seldsame siekte het as wat hulle kindjie, Janke, gehad het wat hulle aan die dood afgestaan het.

 

Op die ouderdom van ses maande is Dihan met chroniese granulomateuse, ’n seldsame en baie ernstige immuunsiekte, gediagnoseer..

 

Mev. Meyburgh en haar man, Diederik het ses jaar gelede hul seun Janke verloor weens die siektetoestand.

 

Dokters het gedink Janke is aan kanker dood. Later is vasgestel dit was nie die geval nie. Eers toe Dihan dieselfde simptome ontwikkel het, is die werklike siekte vasgestel.

 

Dokters meen Dihan sal moontlik nie ouer as vyf word as hy nie dringend ’n beenmurgoorplanting kry nie.

 

Die egpaar het drie ander kinders: Liné is 11 maande, Vanessa (15) en Willem (6). 

 

Hulle boer in die distrik en het nie ’n mediese fonds nie. Hulle moes onlangs R27000 betaal om moontlike beenmurg-skenkers te laat toets.

 

“Verlede jaar was hy 52 dae aaneen in die hospitaal,” sê mev. Meyburgh.