Lewensveranderend!

As ’n mens ‘n afstand moet ry deur die Vrystaat, ry jy met jou spesiaal aangepaste en uitgeboude  4×4 voertuig. ‘n Ding wat enige terrein kan baasraak, slote, rotse, heuwels, gate, water, bokke, ou verroeste kargeraamtes, stompe, spykers, blikke riviere en hôbasies. Natuurlik is alle paaie in die Vrystaat nie so rof nie. Dit is maar meer die avonturiers wat hierdie paaie ry. Vir die ou wat wil veilig speel is daar die opsie om van die nasionale paaie af te klim op die grondpadroetes al plaaspad langs wat gereeld deur die boere self geskraap word.

Die rede vir die vier-by-vier-Vrystaat-vreugde-van-Vrede-tot-Ventersburg is blykbaar dat daar nie geld is om die paaie reg te maak nie! Wat toe nou wel die Sweep laat wonder het of hy per ongeluk sy sokkies gerook het, is toe hy raaklees dat die Vrystaat se provinsiale regering sedert 2011 al R70M aan sy webwerf spandeer het en dat die kontrak blykbaar amper R120M werd is.

As hulle maar hierdie Er 120 Em  aan die Er 57 of die Er 34 spandeer het, was Vrystaters se banderekeninge dalk nie hoër as hul brandstofuitgawes nie! (En glo my, dit is nie nodig vir petrol snuif, of om ‘n reeksbrandstigter wees om meer aan brandstof as aan bande uit te gee nie! In enige ander land moet jy jou huis laat bou met splinternuwe “goodyears” om dit reg te kry!)

Terug na die punt, as daar in een jaar 44miljoen bobbejaanvelle aan een webblad spandeer word, het ek gereken dat dit ‘n lewensveranderende ervaring sal bied! Met die opgewondenheid van ‘n 15jarige Xhoza seuntjie wat die see vir die eerste maal sien en nognie besef dat hy oor 10 minute daaruit gered sal moet word deur sy oorgewig ma wat self ook nie kan swem nie, tik ek in my interweb se witblokkie: “Free State Provincial Government” Tussen al die koerantberigte oor korrupte staatsdienswerkers kry ek toe die webwerf. Teen hierdie tyd bewe ek so van opwinding dat ek vier korrupsieberrigte raakklik voor ek die blad tref.

‘n R120miljoen webblad moet darem seker my wasgoed kan opvou en ontbyt maak! Wat kry ek toe? Wel…nie veel nie. Die blad is omtrent so opwindend soos mens sou verwag dat ‘n uitgebreide kommentaar op die verskynsel van verveeldheid sou wees. Ek het die eerste paragraaf gelees en toe wakker geword met die “shift” knoppie wat aan my wang vassit en kwyl dwarsoor my sleutelbord!

Mens sou dink so webblad moet lewensveranderend wees,maar toe besef ek, dit was sekerlik lewensveranderend…vir Tumi Ntesele, die ou wat die kontrak gekry het!

Tot volgende slag

Die Sweep