Joubero Malherbe sterf.


Joubero Malherbe (89), bekende in kuns- en uitsaaikringe is verlede week in haar huis in Brooklyn, Pretoria, oorlede.

Haar loopbaan by die radio het van 1961 tot 2004 gestrek. Sy het bekendheid vir haar kortverhale en reekse in programme soos Vrouerubriek, Vir die Kleinspan en Siembaba verwerf.

Sy het oor ‘n enorme kennis van musiek en musiekgeskiedenis beskik en het ‘n huishoudelike naam met haar weeklikse program, Musiekposbus geword. Sy het in verskeie rolprente asook in produksies van Volksteater opgetree.

Sy was ook lid van die Pretoriase Operagroep asook van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK).

Sy word deur haar seun en dogter en vyf kleinkinders oorleef.

Foto: Joubero en haar oorlede man, dr. Ettiene Malherbe