Jicama / Pachyrhizus erosus .. onbekend?

 

Jicama is ’n groentesoort wat onbekend is aan ons.  Dit staan ook bekend as die “Mexican Turnip” of “Mexican Yam” of “Yam bean”  want dis oorspronklik  ’n Meksikaanse rankplant en die vrug of wortel lyk amper soos ’n raap. Die Jicama is in die familie Fabaceae en die genus Pachyrhizus.  Dit is eetbaar en word gebruik in geregte soos “Guacamole” (wat soos ’n doopsous is) wat gemaak word van avokadopeer, rissies, suurlemoensap, koljanderblare, gerasperde ui en olyf- of sesame olie.  Dit is ook ’n bekende groente en word ook regdeur Amerika gevind.  Jicama bevat baie vesel, 80 – 90% water en klein hoeveelhede proteïen en het ook ’n hoë vitamien A, B en C, kalsium en fosfor.

 

Die Jicama rankplant kan  4 – 5 meter groei, maar moet ’n stut hê om teen op te rank. Die blare van die plant is hartvormig en die ranke is dun.  ’n Rank vol Jicama’s kan tot 2 meter wees en die swaarste wat so ’n rank geweeg het, was 23kg en dit was in die Filippyne gevind waar dit bekend staan as “singkamas”.  Alhoewel ons die vrug van die Jicama kan eet, is die plant self giftig.  Die plant dra ook peule met ronde sade wat soos ertjies lyk maar is ook giftig.  Die saad word gebruik as gif teen insekte. 

 

Die wortel of vrug van die Jicama is roomkleurig tot liggeel aan die buitekant en die skil lyk soos papier.  Binnekant is dit room-wit met ’n tekstuur van ’n raap, appel of peer.  Die smaak is soeterig en ietwat styselagtig.  Hierdie groente kan dan rou of gaar geëet word.  Die Meksikane eet dit rou met sout, suurlemoen of lemmetjiesap en rissiepoeier oor.  Dit kan ook gekook word met ui en dan fyngemaak word soos kapokaartappels en kan ook soos rape in groentesop of ook in roerbraai geregte gebruik word. 

 

Jicama moet droog gestoor word en as dit vars gekoop word kan dit tot 4 weke vars bly.

 

Vir veiligheid moet ons  maar altyd tuinhandskoene  gebruik wanneer daar aan die plante gesny of verplant word.

 

Geniet u tuin in Augustus.  Die somer is op pad en dan lê die groot werk voor.