Is ons werklik gesond?

Al beskryf byna 80% van Suid-Afrikaners hulself as gesond en selfs baie gesond, is een uit drie mans en een uit twee vroue onfiks (na gelang van ‘n standaard-fiksheidstoets), die gemiddelde vrou is oorgewig, 16,5% ly aan hoë bloeddruk, 9,5% ly aan suikersiekte en 17,1% sukkel met bloedarmoede.

 

Dit is die resultate van die eerste Suid-Afrikaanse Nasionale ondersoek na gesondheid en voedingswaarde (SANHANES-1) wat deur die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) bekend gestel is.

 

Volgens die verslag is heelwat meer vrouens (68,2%) as mans (29,2%) oorgewig. Die gemiddelde Suid-Afrikaanse man se liggaamsmassa-indeks (LMI) is 23,6% terwyl dit by vroue 28,9% is. ‘n LMI van bo 25 word as oorgewig beskou. Altesaam 39,2% vroue ly aan vetsug.

 

Ook is bevind dat een uit vyf Suid-Afrikaners se dieët bevat hoë vlakke suiker of vet en dat net een uit sewe (14,3%) die gesondheidswaarde van kos in ag neem wanneer hulle kruideniersware koop. Die grootste faktore by die koop van kruideniersware is die prys (64,5%) en smaak (17,5%) van kos.