Hoofregter bring regbank in oneer.

Vir die eerste keer in Suid-Afrika, is ‘n hoofregter daarvan beskuldig dat hy die regbank in oneer gebring het.

 

‘n Klag by die Regterlike Dienskommissie (RDK) is deur die Instituut vir Verantwoordbaarheid in Suider-Afrika (Ifaisa) teen hoofregter Mogoeng Mogoeng, ingedien.

 

Die klag spruit uit sy onlangse uitsprake oor transformasie van die regbank en dat daar oorlog verklaar moet word teen diegene wat die RDK kritiseer.

 

Adv. Paul Hofman SA, direkteur van Ifaisa, verwys in die klag na die saak van die Helen Suzman-stigting teen die RDK. Die stigting het ook onlangs in die Wes-Kaapse hooggeregshof vir ‘n verklarende bevel gevra oor die RDK se aanstelling van vier regters verlede jaar in dié hof.

 

Dit handel ook oor die RDK se besluit om adv. Jeremy Gauntlett SA en Stephen Koen nie vir regtersposte aan te beveel nie.

 

Beskuldigings teen Mogoeng sluit die volgende in:

* dat hy die gedragskode vir regters oortree het weens sy uitlatings oor omstrede kwessies wat reeds voor die hof dien;

* dat hy onbehoorlik optree deur by politieke en beleidskwessies, soos regstellende aksie, betrokke te raak;

* deur sy interpretasie van ‘n grondwetlike bepaling oor die aanstelling van regters onbillike diskriminasie teen wit mans voorskryf;

 

By monde van adv. Johan Kruger, direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Ontwikkeling, is kommer uitgespreek oor Mogoeng en die RDK se oënskynlike interpretasie van die wyse waarop transformasie van die regbank en regsberoep moet plaasvind.

 

 Foto – Mogoeng Mogoeng