Hond-en-kat-liefde.

Gewoonlik is hulle aartsvyande maar as dit nie vir die hond se bloed was nie, sou dié kat nie oorleef het nie.

 

Macy, ‘n swart labrador in Wellington, Nieu-Seeland, het al nege lewens van Rory, ‘n gemmerkat, gered, nadat dié rottegif ingekry het.

Sy eienaar, Kim Edwards het hom dadelik veearts toe geneem, wat beslis het dat die kat dringend ‘n bloedoortapping moet kry, maar daar was te min tyd om ‘n bloedmonster te neem om die kat se bloedgroep te bepaal.

 

Nadat die veearts, Kate Heller, kollegas geraadpleeg het, het sy besluit om ‘n kans te waag en ‘n hond se bloed te gebruik om die kat se lewe te red.

Interspesie-bloedoortappings is buitengewoon en word nie aanbeveel nie, maar in die geval was daar nie ‘n ander uitweg nie. Sy het haar vriendin, Michelle Whitmore, gebel om Macy, haar labrador na die kliniek te bring.

 

Alles het goed afgeloop en ná die oortapping het Rory begin spin en aan ‘n bakkie kos weggelê.