Grootste lykhuis vervalle


In ‘n land waar daar so min respek vir die lewendes is, is dit te verwagte dat die dooies nie met waardigheid hanteer sal word nie.

Die grootste staatslykhuis in Soutrivier, wat in 1956 gebou is, het só verval dat forensiese patoloë met hul voete in bloederige water staan en werk.

Die lykhuis in die Wes-Kaap, bedien die hele wes-metropool, suidelike voorstede, Klipfontein en Mitchells Plain. Dit het geriewe vir 1,500 lyke per jaar, maar tans word 3,500 per jaar gedoen.

Die hoof van die Departement Forensiese Geneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad (UK), prof Lorna Martin, het gesê weens die min plek was hulle genoodsaak om ‘n koelvraghouer aan te koop, wat ook nou vol is.

Dr. Linda Liebenberg, senior patoloog sê sy doen tot 600 lykskouings per jaar terwyl die internasionale norm 250 per jaar is.

Sy sê komplekse moordsake kan hulle maande en jare besig hou. Volgens haar wag hulle jare op toksikologieverslae. Die probleem is dat op die doodsertifikaat dan staan dat die oorsaak van dood “onbepaald” is, wat beteken dat mense nie afsluiting kry nie en polisse nie uitbetaal nie.

Sy sê die dooies verdien ook respek en die enigste oplossing is ‘n forensiese patologie-instituut.