Gestremde deur sekuriteitswag rondgeruk.

 

Massmart, wat Makro besit, het onvoorwaardelik verskoning aangebied nadat veiligheidswagte ‘n gestremde jongman in die Makro-winkel in Germiston rondgepluk het.

 

Die jongman, Shawn, se pa, Deon Esterhuyzen het toegegee dat hy ‘n moeilike kind is en dat hulle nie altyd weet wat om van hom te verwag nie, maar meen dat daar ‘n bietjie empatie kon gewees het nadat hy die situasie verduidelik het.

 

Volgens hom gaps Shawn goed, maar van die ander winkels weet dit en weet dat hy gestremd is en dopgehou moet word.

 

Die probleem by Makro was dat die veiligheidsbeheerpunt hulle voorgekeer het omdat Shawn iets gesteel het. Dit blyk dat Shawn ses kurktrekkers ter waarde van R160 in sy sakke gedruk het. Deon het aangebied om dadelik daarvoor te betaal.

 

Die winkel het geweier en die familie is na ‘n kamer geneem om vir die polisie te wag. Toe die polisie opdaag en vir Shawn herken, het hulle geweier om hom te arresteer. Die winkelbestuur was egter ongenaakbaar, het die Esterhuyzens se kaart gekanselleer en hulle verbied om weer ‘n voet daar te sit.

 

Die bestuurder van Makro Germiston gaan egter die Esterhuyzen-gesin persoonlik om verskoning vra. Daar is ook gereël dat werknemers kursusse in die hantering van mense met gestremdheid moet bywoon.