Gekonkel met Landbou-projek duur voort

’n Parlementêre portefeulje-komitee oor werksaamhede van die Departement Landbou, Bosbou en Visserye  het om vreemde redes besluit dat die beplande besoek aan die omstrede “landbou-projek” in die Vrystaat afgelas word omdat die afstand daarheen “te vêr is en daar is niks te siene nie.”

 

Die projek, wat aan die omstrede Gupta-familie gekoppel word, is op die oomblik een van die mees omstrede projekte in die Vrystaat wat deur die Regering gelei word.

 

Die komitee sou die multi-miljoen Randse suiwel-projek naby Vrede besoek het, maar is intussen afgelas, alhoewel hulle toe reeds op Reitz was, wat sowat 100 km vanaf Vrede geleë is..

 

Kenners het die mening uitgespreek dat die vreemde optrede die vermoede versterk dat ’n toesmeerdery van bepaalde ongerymdhede aan die orde van die dag is.

 

Dokumente is blykbaar aan komitee-lede beskikbaar gestel waarin die suiwel-projek se koste op R570 miljoen gestel word.

 

Inligting wat onder die aandag van Die Vryburger gebring is, dui daarop dat die belanghebbendes by die projek versoek is om onder geen omstandighede die betrokkenheid van die Gupta-familie bekend te maak nie.

 

Atul Gupta was blykbaar op gereelde basis ’n besoeker op die plaas waar die suiwel-projek gevestig word.