Engelse Premier vrees verdere onthullings.

Die storm oor die Britse regering se intimidasie van die Londense dagblad The Guardian om die hardeskywe met afluister-onthullings deur die Amerikaner Edward Snowden te vernietig, duur voort.

 

Twee koerante, The Independent en The Daily Mail, het onafhanklik van mekaar berig dat David Cameron, premier, self die bevel gegee het om amptenare van die Britse geheime diens na The Guardian te stuur om toe te sien dat die hardeskywe vernietig word.

 

Cameron het die taak glo opgedra aan sir Jeremy Heywood, die kabinet se sekretaris. Heywood het The Guardian se redakteur, Alan Rusbridger, met regstappe gedreig wat ingestem het dat die hardeskywe vernietig kan word.

 

Die onthullings sal egter voortgaan op grond van dokumente wat Snowden aan hom oorhandig het. Omdat kopieë gemaak is, sal die berigte bloot vanuit die buiteland geskryf word.

 

Die Withuis het hom van dié optrede gedistansieer, maar die Duitse regering het krtiek uitgespreek. Ook die organisasie Verslaggewers Sonder Grense het skerp kritiek daarteen uitgespreek.