Ek sien dit so!

Daar is nog goeie mense daarbuite, Neelsie weet, aangesien daardie goeie mense van tyd tot tyd skenkings van klere, komberse en ander noodsaaklikhede by hom kom aflewer vir verdere verspreiding.

Dit gebeur soms dat ek nie self die aflewerings kan maak by plekke waar ons mense dit die nodigste het nie. Wanneer dit so uitwerk, tref ek reëlings om die skenkings op ander maniere te versprei. Een van hierdie maniere is om dit na ‘n kerk te neem waar ek daarvan verseker word dat die skenkings ons mense sal bereik.

En dit is hier waar die wiele effens wankelrig raak. Neelsie stop die pas afgelope Sondag voor die deur van hierdie spesifieke kerk met ‘n bakkie mooi volgepak met lewensmiddele.

Die heel eerste waarneming wat ek maak, is die groepies grootmense wat soos kinders op ‘n skool se speelterrein staan en klets. Duidelik waarneembaar verskuif die skindertonge van tant Martie se lelike skoene, na die simpel mannetjie met die volgepakte bakkie, wat die vermetelheid het om voor die kerkdeur te gaan stilhou.

Min gepla deur hierdie onbeskaamd aanstarendes, begin ek doodrustig die bokse een vir een indra. Party van die bokse is lywig en redelik ongemaklik vir iemand met kort arms om te dra, maar tog staan volgroeide mans met dik arms en breë borskaste my en aanstaar, giggelend, soos dogtertjies, in stede daarvan om soos trotse ware manne hand by te sit.

Hierdie gebeurtenis het my opnuut laat besef dat my besluit om nooit voor kerk by hierdie groepies te staan en lippe klap nie, die korrekte een was en steeds is.

Kyk, dit is my geaardheid om altyd uit te kyk waar ek myself kan nuttig maak deur hand by te sit. Miskien is dit om hierdie rede dat ek nooit sal verstaan hoe mense dit regkry om te praat van broederliefde en dit op te volg met lamsakkigheid nie.

Verstaan tog dat ek nie hierdie storie vertel om te probeer wys hoe wonderlik ek is nie, maar slegs om die algemene houding van mense wat voorgee om vryheidstrewend te wees, te ontbloot, en daardeur ons huidige situasie te verduidelik. Dis elkeen vir homself en die res vir die duiwel.

Die samehorigheid wat daar was op 11 Oktober 1899, die dag waarop die Tweede Vryheids Oorlog uitgebreek het, is beslis nie meer te bespeur onder ons mense nie. Die kommuniste en verraaiers het, soos dinge tans lyk, in hulle doel geslaag. Daardie doel is om ons mense te breinspoel en te verdeel.

Hulle het daarin geslaag om ons mense te laat glo dat deelname aan die OVK se bekookte verkiesings hulle bas sal red. Hulle het daarin geslaag om volksgenoot teen volksgenoot op te steek met praatjies van nasiebou en kamstige vêr-regses.

Maar Neelsie het vandag ‘n belangrike nuusflits vir hierdie verdwaalde volk en sy gewetenlose slagters: – Daar ís nog opregte stryders, en solank hierdie feit staan, sal die vryheidsvlam bly brand. Daar sal ‘n dag aanbreek wanneer geen kommunistiese wet en geen draadsittende Afrikaner die alombekende golf van nasionalisme sal stuit nie. Hierdie waarheid glo ek met my hele hart, net soos ‘n handjievol ander opregte Boere dit met hul hele hart glo.

Boeregroete,

Kordaat Neelsie