Ek sien dit so!

Hierdie week het Neelsie ‘n maklike taak. Die afgelope week het daar ‘n groot bespreking op Bakkiesblad losgebars oor of mense moet deelneem aan die kommunistiese verkiesings aldan nie. Die volgende is ‘n skrywe wat Neelsie met trots plaas met toestemming van die outeur. Dit verduidelik, maar som ook die hele situasie mooi op.

“Ek wil met die grootste vriendelikheid ‘n nie-stemmer se standpunt verduidelik. In 1994 het die VF deelgeneem aan die eerste “demokratiese” verkiesing, hulle uitsluitlike doel was gewees om ‘n volkstaat te bewerkstellig vir diegene wat nie deel van die Nuwe SA wou wees nie. Die afgelope negentien jaar sedertdien, het gewys dat hulle klaaglik misluk het in daardie oorspronklike doel – tensy daar natuurlik nog altyd ‘n ander doel was en hulle duisende Afrikaners om die bos gelei het.

Hier staan ons nou in 2013. Talle blankes reken dat ‘n stem vir die DA daartoe kan bydra dat ons ‘n beter regering kry. Goed, kom ons kyk net vlugtig na die DA se vyandige dade teenoor die Afrikaner. In Februarie 2011 word ‘n registrasie punt vir ons eie volksverkiesing opgestel in die ooste van PTA. ‘n Ent verder op in die pad is daar ‘n DA registrasie punt vir die nasionale verkiesing. Sonder enige uitlokking, daag twee DA knape by ons VVK registrasie punt op en sit ‘n DA-plakkaat teen een van die lamppale langs ons tent op. Hulle het ‘n papier met die volgende daarop: “Moenie hier registreer!” op hul plakkaat geplak. Is dit demokrasie of tipiese Afrika-politiek?

Op 31 Mei 2012, ruk nagenoeg 160 mense op na Delmas om hul ontevredenheid te toon met die stand van sake nadat Wiehan Botes en sy oppasser wreedaardig vermoor is. Die ANC was doodstil oor die optog, die DA aan die anderkant het ‘n groot bohaai opgeskop daaroor en ‘n ware “nasie-optog” gereël die volgende week. Vergelyk nou die 160 mense wat op eie onkoste en vrywillig opgeruk het met die volgende. Die DA se provinsiale leier, Anthonie Benade, kon nie eers daarin slaag om 60 mense te kry vir sy optog nie! Hierdie was bloot ‘n geval van ‘n stemsoekende kruiper wat die geleentheid aangegryp het om die Afrikaner te piets.

Sowat twee maande gelede bars daar ‘n storm los oor Kleinfontein. ‘n Gemeenskap wat op grond van kulturele agtergrond, hul eie veilige vesting gebou het. Die ANC het met praatjies gedreig, maar dis die DA wat opgeruk het na Kleinfontein om aan almal te wys hoe ‘n nasie kan saamstaan. Hulle poging was weereens ‘n grap aangesien nie meer as 60 mense vir hul optog opgedaag het nie. Dalk dieselfde 60 wat in Delmas optog gehou het? Huur ‘n optog? Hoe dit ookal sy, hierdie laakbare optrede van die DA het gewys wat hulle dink van Afrikaners wat hul reg tot vryheid van assosiasie wil uitoefen.

Goed, dit was nou sommer net ‘n paar van die talle voorbeelde van wat die DA van Afrikaners dink. Kom ons kyk na wat die afgelope week in Potchefstroom gebeur het. Die DA wen die tussenverkiesing, en sukkel hul agterente af om die uitgesette burgemeester uit sy stoel te lig. Flikker die gevaarligte al vir julle? As die ANC so kan vasklou aan ‘n enkele munisipaliteit, hoe gaan hulle nie vasklou as die DA die nasionale verkiesing moet wen nie? Ons bly in Afrika, die ANC is goeie maatjies met Mugabe, wat doen Mugabe in Zimbabwe? Hy klou. Wat gaan die ANC doen in SA? Hulle gaan klou. Hoewel hoogs onwaarskynlik, kom ons veronderstel die DA wen 51% van volgende jaar se stemmers. Hoeveel van daardie stemmers moet swart wees? Die meerderheid. Dus sal daardie meerderheid van die DA verwag om na hul om te sien, en die DA sal geen ander keuse hê as om die Afrikaner verder te vertrap nie. As hulle die meerderheid wil behou, gaan hulle na die meerderheid se pype moet dans.

Kom ons kyk na nog ‘n aspek. Julle sien daagliks hoe Sunette op haar blad rapporteer van hoe ons mense verniel word. Daar is ‘n volksmoord aan die gang. Die internasionaal erkende organisasie, Genocide Watch, bevestig dit. Ons staan op vlak 6 uit 8 op die skaal waarmee volksmoord bereken word. Ons sien daagliks uitsprake van swartes wat duidelik bloeddorstig is. Hierdie reënboognasie is ‘n klug, ons word uitgemoor terwyl die liberale media ons wil laat verstaan dat alles goed gaan in SA. Ons mense word die laaste negentien jaar, en selfs langer al gebreinspoel. Om ‘n rugby- of krieketbeker te verower gaan nie maak dat ‘n bloeddorstige barbaar jou lewe gaan spaar nie.

‘n Stelsel se sukses word grootliks bepaal deur die stempersentasie. Indien 80% van stemgeregtiges dus gaan stem, skep dit die indruk dat meeste mense tevrede is, en vertroue het in die stelsel. As daar egter ‘n stempersentasie van 60% is en al 60% stem vir die ANC, sal die buiteland ook besef dat iets nie reg is nie. Om opposisiepartye te bly voer, verleng net die benarde situasie waarin ons tans verkeer. Ons het ons eie verkiesingskommissie tot stand gebring, waar Afrikaners ‘n stem kan uitbring vir iemand wat daadwerklik stry vir ‘n veilige stukkie aarde, waarop mense met dieselfde kultuur, geskiedenis en taal in vrede kan woon. Waar ons nie heeltyd oor ons skouers hoef te loer nie, waar ons kinders nie benadeel word omdat hulle blank is nie, waar jou buurman nie net ‘n kennis is nie maar ‘n ware volksgenoot. Ons moet buite hierdie bestel konsolideer.

Hoe kan enigiemand van my verwag om deel te neem aan ‘n verkiesing wat so demokraties is dat alle gelowe gelyk is, waar babas onder beskerming van die wet vermoor word in die baarmoeder, waar my taal nie welkom is nie maar Engels welkom is al is ons geskiedenis deurtrek van bewyse wat die ware verhaal vertel, waar my kinders moet leer dat as jy nie ‘n vriend oor die kleurgrens het nie jy ook nie ‘n vriend vir iemand anders kan wees nie?

My standpunt bly en sal nooit verander nie. Ek sal nooit, maar nooit, deelneem aan hierdie bose verkiesings nie. Daar is ‘n alternatief gestel, mense gebruik net hul eie reg om te kies watter een vir hulle die beste is.

Stem reg, bly weg!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie