Duur vakansies waarvoor jy betaal

Pres. Jacob Zuma se onlangse vakansie op ‘n Mosambiekse eiland asook dié van sy adjunk, Kgalema Motlanthe, op ‘n eiland in die Seychelle, het die belastingbetaler sowat R2,6 miljoen gekos.

 

Net om Zuma op Bazaruto en terug te kry, het ‘n Falcon 900 en twee Oryx-helikopters 36 vlugte onderneem. Dit is nadat dat dokters aanbeveel het dat hy moet gaan rus.

 

Zuma het in die Falcon van die Waterkloof-lugmagbasis na Vilanculos gevlieg, van waar die twee helikopters hom en sy lyfwagte na die eiland kon neem. Elke keer dat die helikopters land om brandstof in te neem, tel dit as ‘n nuwe vlug.

 

Twee Oryx-helikopters van 15 Eskader in Durban het heelpad na Vilanculos gevlieg sodat hulle Zuma van die Mosambiekse dorp na die eiland kon neem.

 

Die algehele koste was R1,6 miljoen.

 

Motlanthe het enkele weke vantevore dieselfde Falcon gebruik om in die Seychelle te gaan herstel nadat hy die stryd om die presidentskap van die ANC van Zuma af te vat, verloor het.

 

Hy, sy vriendin en minstens vyf lyfwagte het in die luukse Desroches-eilandoord gaan uitspan, Motlanthe het self vir sy verblyf betaal, maar dié van die bemanning en lyfwagte is deur die belastingbetaler betaal.

 

Intussen kos die BBP-vlugte van die nuwe Minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula sedert haar aanstelling op 12 Junie verlede jaar tot 30 Junie vanjaar die belastingbetaler R13,04 miljoen.

 

Haar voorganger, Lindiwe Sisulu het tussen 2009 en Junie 2012 meer as 200 vlugte in BBP-stralers onderneem wat die Departement van Verdediging R40,5 miljoen gekos het.

 

Hierdie voorbeelde van uitspattigheid is in skreiende kontras met byvoorbeeld dié van wyle adv. J. G. Strydom, ‘n voormalige Eerste Minister van die ou Suid-Afrika, wat uit sy eie sak brandstof in die ampsmotor gegooi het as hy tydens ‘n besoek aan sy kiesafdeling ‘n draai op sy plaas wou maak.

 

Foto – Falcon 900 vliegtuig