Dombeya rotundifolia / Wildepeerboom / Dikbas / "Wild pear" oftewel die Bosveldbruid

Hierdie is nog ’n inheemse boom vir kleiner tuine.  Die naam “Bosveldbruid” pas dan voorwaar pragtig by die boom.  Die boom kry sy Engelse naam “Wild pear” en sy Afrikaanse naam “Wildepeer” van die massa wit tot ligpienk blommetjies wat die boom dra, wat net soos  die regte peerboom se blommetjies lyk,  Daarom lyk dit dan ook wanneer hierdie bome in die blom is, soos bruide in die veld. 

 

Die blommetjies is baie welriekend en indien ’n takkie afgesny en binne die huis geplaas word, ruik die huis sommer vinnig na heuning.  Dit is ’n pragtige ornamentele boom vir die buksie-tuin.  Die wildepeer is glad nie familie van ons gewone peerboom nie.  Hy is familie van die Malvaccae en die genus is Dombeya.  Die Dombeya is vernoem na Joseph Dombey, ’n Franse botanis wat in Peru en Chili gewerk het.  Rotundifolia verwys na die boom se ronde blare.  Die blare is groot en harig aan al twee kante.  Indien ons naby die takke verbystap, sal daar dalk ’n paar harde krapperige blare aan ons klere bly kleef.  Die blare het dik ware wat aan die voor- en agterkant duidelik sigbaar is.

 

Hierdie boom kom oor in Suid-Afrika en ook Sentraal en Oos-Afrika in tropiese gebiede.  Die Bosveldbruid aard natuurlik baie goed in die droë bosveld en kan uiterste hitte en droogte en ook ryp weerstaan.  Hierdie boom is bladwisselend.  Hy word 5 – 6 meter hoog met ’n dik enkelstam en het ’n baie harde swart,  dik, growwe bas van onder af tot die kleinste takkies bo. Die boom se hout is dan ook taai en was gebruik vir die maak van houtwaens en van die takke is ook toue gemaak.  Die hout van die Dombeya is bestand teen termiete en woord daarom ook gebruik vir heiningpale.  Dit is ’n baie sterk boom en groei nogal vinnig.

 

Indien u in die bosveld woon, sal u  opmerk dat hierdie bome nou begin blom en of hy nou min of baie water kry, hy blom elke jaar gedurende laat Julie en tot in September.  Sy blommetjies bly aan die boom totdat daar ’n klein tipe vruggie begin vorm in die middel van elke blommetjie.  Daarna verkleur die blommetjies na bruin en sodra die vruggie nou ryp is, val dit van die boom af en die blaartjies lyk dan soos veertjies wat in die wind rondwaai.  Die bome is gewild by byeboere want die blommetjies bevat baie nektar en lok dus bye en vlinders na die tuin.  Die wildsbokke in die bosveld kan ook nie hierdie boomblare weerstaan nie, hul dink dis ’n heerlike versnapering en eet die bome redelik kaal sodra daar bietjie min voedsel vir hulle in die veld is.

 

Die Bosveldbruid groei van saad in die lente.  Plant in diep grond wanneer die blaartjies begin verskyn.  Dit is ’n pragtige skaduboom wat u gerus in u tuin kan plant.

 

Geniet u tuin en geniet al die pragtige Clivias (boslelies) wat nou begin blom.

Onthou dat daar baie nuwe soorte met die wonderlikste blomkleure beskikbaar is by kwekerye en tuinsentrums.