DBV verloor redding-stryd

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV)het misluk in sy dringende aansoek by die hof om te verhoed dat sowat 2, 000 beeste op ’n vragskip by die Oos-Londen hawe gelaai en verskeep word na Mauritius.

 

Die hofaansoek is in die hooggeregshof in Grahamstad verwerp.

 

’n Direkteur van die DBV, Marcelle Meredith, sê hulle het probeer doen waartoe hulle in staat is, teen ’n geweldige koste, om te keer dat die diere op die wrede tog gaan.

 

Die NDBV wou sien dat die diere in die RSA geslag word, waarna die vleis verskeep kon word na Mauritius. Dit kon selfs per vliegtuig versend word.

Die skip, genaamd Barkly Pearl, het die bynaam “skip van skande” gekry omdat diere in sulke uiters swak toestande vervoer word.

Meredith sê die tog na Mauritius duur langer as ’n week. Dit neem tot vier dae om die diere op en af te laai. Talle diere oorleef nie die tog nie, hulle word seesiek, braak, urineer, vertrap mekaar en kom in uiters swak toestand by hul bestemming.