Daar is niks nuut onder die son nie

Vandag is GRA-Dag  – en daarom word hierdie gedeelte geplaas om volksgenote op te skerp tot suiwer Afrikaans wanneer hulle praat.

 

Dit is die woorde van die Prediker. Hy wat in sy wysheid alles ondersoek het, en gevind het dat alles wat bestaan, reeds bestaan het. Maar die Prediker het ook geskryf dat alles ´n gejaag na wind is.

 

Maar terug na die onderwerp. Het julle al gehoor as Pa, of Ma, of is dit dalk Ouma gesê het dat die kinders van vandag (bedoelende julle wat hier teenwoordig is) darem die taal liederlik opmors? Alles is mos koel – en dan met so ´n Engelse aksent uitgespreek. Om so te praat is klaarblyklik “stunning” in plaas van die pragtige woord manjifiek.

 

Dan sing die ander ou nog van baby-tjoklates in sy Afrikaanse liedjie asof daar nie meer treffende woorde in Afrikaans is nie. Pleks hy gaan kers opsteek by die Nooi in ´n nartjie.

 

Maar Pa of Ouma is darem baie vergeetagtig. Waar is die dae toe die seuns ´n “tie” gedra het want toe het die fabrieke nog nie dasse vervaardig nie. Die pull-ower jersey het maar baie later eers ´n kortmou trui geword.  Netso het hulle bike gery skool-toe met ´n boeksak op die “carrier” en dalk was daar nog ´n skoolmaat wat gesit het voor tussen die saal en die “handles” op die “frame” sodat die “pedals” dikwels gebuig het onder die swaar gewig. Oupa het maar self gesukkel om die Plymouth motor te “start” en dikwels die briek hard getrap.

 

Ouma het die heerlikste “canfruit” gemaak – vandag koop mens ingelegde vrugte in die supermark en “jam” uit Ma se spens was altyd ´n feesmaal saam met vars gebakte bruinbrood. Deesdae se gekoopte konfyt is mos meer pampoen as konfyt.

 

En Oupa het vergeet hoe Chris Blignaut die Engelse woorde kwistig gebruik het in sy lekker-luister liedjies. Hy sing sommer van Janneman “squeeze” my en ´n ander kunstenaar sing weer van ´n “bicycle sonder ´n slot”. Hieroor kla hulle nie, maar as die jong kunstenaars van vandag dit doen, dan is die ouer garde ongelukkig.

 

So, wie is nou reg en wie doen verkeerd – is dit die jeug van vandag, julle wat hier is, of Pa en Oupa? Eintlik is almal verkeerd – en tog is daar verskonings. Aan die een kant kan ons redeneer dat Oupa en Ouma se verkeerde taalgebruik toegeskryf kan word aan die tyd toe hulle op skool was – toe die Britse Imperialisme nog sy invloed as nalatenskap oor ons mense uitgeoefen het omdat hulle na die Tweede Vryheidsoorlog alles gedoen het om Afrikaans dood te kry. Vandaar ook die uitdrukking wat later jare so bekend geword het “Doodkry is min” wat eintlik maar ´n verwysing was na ons taal, maar wat daarna as ´n pragtige uitdrukking gebruik word binne volksverband. .

 

En daar is ook ´n rede waarom julle vandag sekere Engelse woorde gebruik – die volksvreemde regering se hele bestel is mos pure Engels. En die handelswêreld hardloop agterna. Dit maak dat jy later totaal verdwaal voel. Dan is dit ook so dat daar liberale Afrikaners is wat dink hulle klink goed as hulle so tweetalige mengelmoes besig.

 

Miskien moet ek hierdie kort gesprek afsluit met iets uit my jeugjare – nee, ek was al mooi groot en my oudste seun was al skoolgaande – en ek was werksaam in ´n landbou omgewing. Toe een van die kliënte, wat daarvan gehou het om direkte vertalings te doen van sleutel woorde, daar by my opdaag en ek verneem na die koringoes wat eersdaags gereed sal wees om gestroop te word. Toe sê hy: Man die koring is pragtig, maar die vervlakste tapbirds verniel dit vreeslik.

 

Dit was eers ure later dat ek besef het dat hy gepraat  het van kraanvoëls !

 

My les aan julle is – moenie probeer belangrik klink nie. Die mooiste taal is daardie taal wat foutloos en suiwer gehou word. As Oupa en Pa hulle skuldig gemaak het aan die euwel, maak julle dit reg met suiwer Afrikaans.

 

Om die wonder van Afrikaans te geniet, is om elke dag twee woorde in die verklarende woordeboek by te leer. Maar mens leer nie die woorde as jy dit nie gebruik nie. So kan jy vir ouboet wat erg vuil is na sy werkery in die tuin sê hy moenie aan jou raak nie want hy lyk soos ´n lunsriem – en ja, ek verkwalik julle nie as julle nie weet wat ´n lunsriem is nie.

 

´n Lunsriem is gebruik in die ossewa se wiel en as. Wanneer die wiel herstel is, word dit terug gesit nadat die as eers smeerolie gekry het. Omdat daar niks anders was wat die kon keer dat die wiel uitval nie, is ´n gaatjie geboor deur die as. Dan is daar ´n riempie deur die gaatjie van die as gedruk en word die twee punte weer geknoop. Dit is genoem ´n lunsriem. Soos wat die wiel draai, word die smeerolie teen die lunsriem afgesmeer, sodat dit later pikswart is – dan is dit mos erg vuil. Daarom, as jy erg vuil is, dan is jy / of lyk jy soos ´n lunsriem.

 

Nou wat beteken dit alles – vir my het dit hierdie een groot waarde – die ouer mense kan niks teen die jeug inbring oor taalgebruik nie, want hulle staan self skuldig.

 

Die taal van ons volk is baie besonders – om dit te illustreer moet ons gaan kyk na die groot volke van die wêreld wat hulle elders gaan vestig het. In die VSA praat hulle Engels – ja, miskien Amerikaanse Engels, maar dit is Engels. In Australia praat hulle Engels. Hierdie volke het nie Engelse geword of gebly nie – hulle praat net Engels.

 

Maar hier aan die suidpunt van Afrika is ´n nuwe taal gebore – ´n taal wat op enige denkbare vlak kan meeding met die grootstes van die wêreld. Ons sien hoe ons taal met sy pragtige klanke die ander nasies beïndruk en beïnvloed. Ons leer hulle dat “lekker” alles sê wat heerlik, aangenaam, mooi, gaaf, goed, of vriendelik mag wees. So het braaivleis en rooibostee al internasionale woorde geword.

 

Hierdie taal is nie net mooi en maklik verstaanbaar nie – dit is ook veel groter as enige ander taal in Afrika. Maar wie kan in ´n ander taal die dinge sê wat in Afrikaans so helder verstaan word – want wie weet nie dat jy na iemand se soort werk navraag doen as jy hom vra: Neef, wat is jou nering?”

 

´n Taal soos Afrikaans is te kosbaar om mee gemors te word – dit is nie “stunning” om ander tale se woorde daarby te voeg nie – net soos wat “OK” nooit die goeie waarde van “reg” kan vervang nie, net so manjifiek is dit om na ´n sterk man te verwys as “hy is so sterk soos ou botter”.  Het jy al geproe hoe smaak botter wat oud geword het – dis nie lekker nie, maar as jy daaraan geproe het, sal jy die uitdrukking beter verstaan. Dit het ´n skerp, sterk, branderige smaak.

 

(Taal onderwerp  – AKB aan die jeug van ons volk